Van Nuweland tot Ongevalle

30th September 2014

Saterdag het begin soos enige ander dag in die Strauss huis. Lennon het popcorn vir ontbyt gehad.

Na die ontbyt vir kampioene, besluit ons om ‘n grassnyer en bietjie kruideniersware te gaan koop. Ek stel voor ons kry eerder ‘n ponie vir die gras, maar my man byt nie. Ek het probeer…

Ons raak egter sidetracked en eindig op in Kaapstad middestad by ‘n vreemde klein winkeltjie wat spesialiseer in onesies. Jip, daai onvleiende eenstukkies wat nou vir een of ander rede hoooog bo my begrip hooooog mode is. Paps soek ‘n Springbok onesie vir die game later. Dis nie aldag dat mens op Nuweland ‘n toets gaan kyk nie. En mens kan nie afsteek by jou Ausie vriend se Kangaroo onesie nie. (Ek WEET!!!) Alle geval…een uur later is ons daaruit met nie een nie, maar drie onesies. ‘n Groot springbok onesie vir Paps, ‘n klein springbokkie onesie vir Kleinprins en ‘n medium Tigger onesie vir Grootprins. (Tigger ja-wie wil nou stupid Springbok pajamas koop?) Paps lyk vir my baie na ‘n swanger mamma springbokkie, maar ek sê maar eerder niks…

Alle geval- gewapen met onesies, chips, springbok steak en bier maak ons ‘n kar vol en vat die pad Nuweland toe. Met dié dat ek designated driver is en nie veel ooghare het vir rugby nie dink ek toe dis ‘n bak plan om dalk vir Tigger te vat vir ‘n film by Cavendish square wyl die rugby hom afspeel. So besluit, so gemaak. Kleinprins het ‘n rugsak so groot soos hy, met al sy benodigdhede, want hy LOVE rugby (liewe leser- indien jy nog nie agterkom na wie my kinders aard nie, is daar dalk fout met jou) Op sy pens is Mams se nommer in swart kokie geskryf en op sy arm, die swanger Springbok (AKA Paps) s’n. Kleinprins is uitgesorteer en Tigger en Mams vat die pad Cavendish square toe.

Ek is net heel in my skik dat ek vir die eerste keer in 7 jaar betyds vir ‘n film se voorprente is, toe die foon lui: “Kom haal ons…Kleinprins moet by ‘n hospitaal uitkom!” Eers dink ek swanger Springbok hou hom sommer snaaks, maar toe hoor ek die wilde geween in die agtergrond.

Tigger is nie ingenome nie. Met Kleinprins se vorige hospitaal eskursie moes hy vir 5 ure lank in wagkamers rondsit. “Mamma, laai my net af by die rugby- ek sal uithou…eerder dit as om weer heeldag in die hospitaal rond te sit!” Die wat Grootprins ken weet dis ‘n groot opoffering om ‘n film vir rugby te moet verruil.

Om terug te kom by Swanger Sprinbok en sy kroos van een, blyk egter nogals uitdagend te wees. Nie net is ek totaal rigting bedinges nie, maar so in my verdwaaldheid tref ek toe nog Nuweland verkeer ook. Die 4 minute (volgens Google maps) neem toe ‘n stywe 25 minute. Maar eindelik sien ek die twee bokkies wei langs die pad. Met my hazards aan stop ek toe sommer ook so in die middel van die pad, ruil ‘n Grootprins vir ‘n Kleinprins en begin te google op my foon vir die naaste Emergency Room. Daar spat groot trane en die sakdoek om die toon is heel bebloed- ek reken dus die is seker maar ‘n emergency.

Met die dat ek so in die middel van die pad staan neem dit ook net ‘n paar minute vir die hele Nuweland polisie brigade om my te kom omsingel. Nee, verduidelik ek, ek soek net ‘n hospitaal…my jongste het sy voet gesny…ek vermoed dis steke en dinge…met die woord hospitaal gee kleinprins ‘n extra groot kreun en snik en dit bring die manne in blou sommer dadelik tot paraatheid. “Mevroutjie, ry jy maar net agter ons aan…ons vat jou tot by die hospitaal.” Met die woord hospitaal gee Kleinprins weer ‘n signature kreet. En daar gaat ons…Ek en my Springbokkie met polisie begeleiding deur Nuweland verkeer.

5 Minute later stop ons voor die ER. En met ‘n wuif en ‘n bloulig beduie die manne in blou dat ons ons bestemming bereik het. Ek waai dankbaar en parkeer sommer so op die rooi lyn. Kleinprins hang soos ‘n bokkie oppad slagpale toe aan my nek. By die voordeur gekom is daar ‘n reuse sign wat sê: we have moved to….Gelukkig is daar ook ‘n pyl wat wys waarnatoe hulle verhuis het en nadat ek Springbokkie van my nek afgeveg het, ry ons om die hoek waar die pyl heen gewys het. Maar die vet weet ek sien geen ER nie. Ek draai toe maar in by ‘n gebou wat lyk soos ‘n hospitaal, gooi sommer vir Sprinbokkie oor die skouer en pyl op die voordeur af…”No mama. ER is across the street. You look there. Sorry mama.” Kleinprins raak teen die tyd al ‘n gewiggie, veral met die dat hy soos ‘n dooie bok aan my hang. Hinkepink kom ek uiteindelik by die ER uit.

Gawe suster vra wat ons makeer. Ek verduidelik dat ons ‘n gesnyde voet het en dat ek vermoed dit kort steke…teen die tyd wat ek by die woord steke kom, is Kleinprins op volsterkte ween. Gawe suster probeer bo die geween verduidelik dat ‘n ander gawe mansuster net eers gou na die voet sal kyk om te besluit of dit wel steke nodig het…mansuster vra of hy kan help dra, maar verander van plan toe Kleinprins sy 100% ween bereik. So met Springbokkie nog om my nek, haal mansuster die sakdoekie af, sit hom dadelik weer terug en skree in die gang af…”Boek hom maar vir steke suster!”

Natuurlik moet ek net gou eers tweehonderd vorms invul. So terwyl ek dit doen vergeet Kleinprins egter so bietjie van die pyn en besluit om 3 polisterine glase te breek, 5 liter water te probeer drink en vra twee keer of hy kan gaan poef. (Ek vermoed egter die tweede uitstappie badkamer toe was net omdat daar baie lekker handwas skuim daar uitgehang het) Gelukkig na omtrent 15 minute is ons vorms ingevul, het ons twee keer gepoef en is ons definitief nie meer dors nie…

Dr Ndludi is toe die uitverkorene Lennie dokter…(of iets soortgelyks- sy aksent was van so aard dat ek regtig nie een woord verstaan het wat die man sê nie.) Hy het egter baie slim gelyk, dierbaar sag na die toon gekyk…’n paar sinne geprewel vir mansusters en toe die pad gevat na een of ander ander noodgeval. Ek het net my kop geknik en gehoop ek lyk ook slim en dat die mansuster later alles sou herhaal wat die dokter gesê het.

Dokter se opdrag was dat die voet eers ontsmet moet word. Ha, maar mansuster het vergeet dat hy hier te doen het met ‘n beseerde Springbokkie. Toe die toon die bak met onsmettingsmiddel tref blaas bokkie ‘n gasket. Dok D maak ‘n u-draai en prewel weer ‘n paar woorde. Mansuster is nie bang nie- hy gryp Springbokkie se voet en gee hom een vinnige skrop om die wond. Bokkie wil nog huil maar toe is dit verby voor hy by sy groot finalé kan uitkom. Mansuster bring ook ‘n groot spuit Stilpayne…ek hoop eers dis dalk vir my, maar helaas…Ek oorweeg vir ‘n oomblik om te gaan kyk of daar nie dalk ‘n bier in die kattebak uitgeval het nie, maar Dok D maak weer sy opwagting..prewel prewel prewel…skud my hand…ek vermoed hy groet seker maar…en daar gaat hy. “Wie gaan die steke insit…?” vra ek en hoop dat ek niemand offend nie. Ek vermoed susters kan darem seker steke insit…

“Lyk my dis te seer vir die outjie mevrou, ons gaan net ‘n hegpleister daaroor sit mevrou en dit dan toedraai mevrou.” Intussen het die Stilpayne ingeskop en Kleinprins begin sy persoonikheid terug kry. Dis nie hoe nie, toe is daar 4 ander susters wat vir mansuster help met die hegpleister. “Waar is die regte dokter mamma?” Hahaha…lag die hopie susters….

Ek en kleinprins is net betyds om Tigger en swanger Sprinbok op te tel na die toets. “Wie’t gewen Aiden?” vra Kleinprins. “Wie dink jy?” blaf Grootprins. “Jei! ons het gewen!” sing Kleinprins.

Die volgende oggend is swanger Springbok se gesig nog groen van die vorige aand se springbok tattoos op sy wang…”ons het toe nooit die grassnywer gekoop nie mams.”

“Kom ons kry eerder ‘n ponie” stel ek voor. Wat wil jy hê vir brekfis Kleinprins (hy is nog steeds in sy Springbokkie onesie). “My voet is baie seer mamma, ek dink popcorn sal help…”

You Might Also Like