Tafelberg tot Tswane

18th January 2017

In my lewe het baie van my uitlatings my later van tyd al baie nederig gemaak. Meeste daarvan egter te doen met kinders grootmaak voor ek Lennon ontmoet het. Tot nou toe. My nuutste lewensles is egter “never say never.” Want nooit is ‘n laaaaang tyd!

Daar is ‘n standaard reaksie by alle Kaapbewoners as jy noem dat jy terug trek Gauteng toe. Eers glimlag hulle want hulle dink jy trek sekerlik hulle been. Dan word die glimlag ‘n naar tipe trek soos hulle besef daar is geen beengetrekkery betrokke nie. En laaste maar nie die minste nie, stamel hulle oor “but whyyy?” met bewerige lippe. ‘n Ou kan letterlik die sooibrand in hulle kele sien opstoot.

Wel so gebeur dit dat ek wel die goeie ou Kaap moet terugruil vir uhm…Gangsters Paradise (soos wat ons Kapenaars liefderyk na die provinsie van melk en.. kug kug…heuning verwys.) Want ‘n ou doen maar wat ‘n ou moet doen.

Terwyl ek alleen op my eis uit Kaapstad vlieg om die trektrok te gaan ontmoet kan ek myself nie kry om vir die berg te kyk toe ons oor hom vlieg nie. Dis so mooi berg. En mooi goed wil ‘n ou altyd laat huil.

Die kinders moet natuurlik omgekoop word. Hoe dan nou anders. Duisende Rande, Playstations en nuwe troeteldiere later, pas hulle natuurlik die maklikste aan. Lennon het een draai in die nuwe cul de sac met sy scooter gevat en terug gekom met ‘n nuwe maatjie en dié se hond wat heel behendig my hele huis gemerk het. Net ingeval ek hom dalk nie gesien het nie. Die maatjie blyk ‘n daaglikse voldag gas te wees ever since. Die hond is egter sommer na dag een vriendelik my huis verbied.

Pretoriô mense is anders. Vir een is hier nie wind nie. So almal kam hulle hare. Hier is ook nie so baie toeriste wat inwoners se klerekasstandaarde aftrek nie. So almal se klere is gecolourcode en pas bymekaar- Pakkies is in. Baie in. Moet wees. Almal dra pakkies. Hier is ook nie sand nie. So al die tannies dra hoëhakskoene. (My Schalk Burger flippieflops is ‘n seer oog!). Hier is nie ‘n see nie. So mens se lippe raak droog. En jou bene neem die vel van ‘n krokodil aan. En dan die make-up. Hier is letterlik kiloliters en kiloliters make-up. Per persoon.

Verkeer werk beter. Meer paaie. Minder stukkende karre. En die weer is asemrowend. Hier is doringbome wat pragtig is. En die donderstorms is wonderbaar. Die mense is ook seker okay reken ek. Maar ek moet sê nuwe mense leer ken is baie overrated. Ek hou meer van ou bekendes. Wat aan jou sit soos ‘n lekker ou paar skoene wat al ingedra is. Ek weet die whatsapps en die belle van Kaap vriende gaan minder raak. Darem is hulle nou nog daar en besonder kosbaar. En ek sal seker nuwe Pretoriô vriende maak (en ek het darem nog ‘n paar ou skoene hier aan die verkeerde kant van die wêreld wat ek net weer moet afstof)….ek sal my hare begin kam as ek uitgaan….en dalk selfs make-up aansit. Ek sal praat oor traffic en taxis. (#gautengsmalltalk101) Ons sal nie oor die weer praat nie, want dis awesome. Ek sal selfs dalk my klere begin colourcode. Ek sal egter nooit ophou flippieflops dra nie. Dit sal net verkeerd wees.

Ek droom snags van Tafelberg
Ek ruik die see as ek my oë toemaak
Solank ek dit alles kan onthou
Sal alles okay wees
Dink ek
Ten minste totdat ek nuwe memories gemaak het
Met nuwe vreemde mense
En hulle nuwe vreemde dinge…
Tot dan liewe Kaap
Yours Truly
Yolande

 

You Might Also Like