Oor Brad Pitt en ander dagdrome…

12th April 2013

Sien noudiedag so uit die hoek van my oog dat een van die Oceans films op MNet wys…ai maar Brad Pitt is darem maar njammies. Dink jou nou in as my en sy paaie moes kruis…? Egter een probleem…ek is getroud. Gmf. Ek is baie dinge, maar ‘n cheat is nie een daarvan nie. Kom ek droom my man is dood en ek is ‘n weduwee. Mmm, nee dit sal nie deug nie, ek wil nie vir my kinders ooit hoef te vertel hulle pappa is dood nie. Kom ek droom liewer ons is geskei. Ja dis beter. My man het my gelos vir ‘n mooier jonger model. Nee wag wag wag. Sy kan nie jonger as ek wees nie. Jong meisies het nie moeder instinkte nie. En sê nou sy verlei later een van my seuns.  Dink aan al die rekeninge vir sielkundiges en lewensafrigters en…nee man Yolandé. Fokus. Brad Pitt.

Wat is die kanse dat my en Brad Pitt se paaie sal kruis…? Wat daarvan ek bly in ‘n huis langs die see in Bloubergstrand, wat my (nou ex-) man vir my MOES koop omdat hy ‘n jonger model aangeskaf het (flêrrie!). Fokus. Ek gaan draf dalk langs die see en draf heel toevallig in Brad Pitt vas (wat natuurlik hier is om ‘n fantastiese film te maak)…nee…hy kan my nie vir die eerste keer ooit sien in my oefen gewaad en sweterige hare nie. En ek draf in alle geval nie.

Dalk sit ek in ‘n restaurant met my Macbook en hy mors sy koffie oor my Macbook en om jammer te sê gaan ons saam na ‘n i-Store toe om vir my ‘n nuwe Macbook te koop en met die dat hy my wonderlike persoonlikheid ontdek op die uitstappie…ek wonder waar sal hulle ‘n i-Store bou in Blouberg…dalk by Eden-On-Bay. Dit sal dalk beter werk in die Checkers sentrum in Bigbay. Dalk…WAT IS FOUT MET MY? FOKUS! BRAD PITT!

Sê nou hy wil my saam terug vat Amerika toe? Ek kan nie my kinders uit die skool haal en Amerika toe flenter nie? En hoe sien hulle ooit hulle pappa en flêrrie stiefma as ons in Amerika bly. Wonder of my (ex-)man dalk sal Amerika toe trek? Of bly Brad deesdae in Frakryk saam met Angie? O gits- Angelina! Nee genade. Ek sal nooit vir Brad kan vetrou nie. Wie kan nou ‘n man vetrou wat sy vrou en (15?) kinders los vir ‘n ietsie op die sy in Suid Afrika? En ek is nogals bang vir Angelina. Die vrou dra bloed om haar nek for crying out loud.

Nee gits. Nou het ek heel my draad verloor en ek het Brad nog nie eers sonder sy hemp gesien nie!! Sal maar liewer fantaseer oor my eie man. Ten minste is sy huidige vrou oulik met die kinders. En ek persoonlik dink sy is nogals hot. 🙂 En niemand hoef skool te verander of Amerika toe te trek nie…En as die lig so flouerig skyn en hy het ‘n kepsie op lyk hy nogals soos Brad Pitt…Wonder net wie gaan vir ons geld gee vir daai huisie langs die see in Bloubergstrand?!

 

You Might Also Like