Never a dull moment!

10th April 2016

So op ‘n Maandag oggend iewers so paar weke terug kondig Bruidegom aan dat hy moet Engeland toe vir ‘n week. En asof dit nie genoeg is nie, moet hy van daar af nog Amerika toe ook piekel vir ‘n ekstra week.

“Ons sal dit nie so lank kan hou sonder jou nie…” kerm ek.

“Wat daarvan jy en die prinsies gaan saam Engeland toe?” sê Bruidegom versigtig.

“Gits, dis te duur…” sê ek halfhartig want ek is bang hy verander dalk van plan.

“Ons maak ‘n plan” sê hy steeds braaf.

Ons plan is om vir die res van April nie te eet nie. Nie ‘n goeie plan nie, maar darem steeds ‘n plan.

Ons reël visums in rekordtyd en dis nie hoe of so nie of ons rits heerlik die hele Engeland vol. Na ‘n week van Burger King (Dis al wat ons kan bekostig in die duurste land in die hele wye wêreld – alhoewel daar geen navorsing is wat dit bewys nie is my leë bankrekening ‘n baie goeie indikasie dat dit wel so is) vat ek en die prinsies toe die pad terug huis toe. Bruidegom groet ons tranerig op Heathrow. Ek vermoed egter die heerlike stilte na ‘n week van baie stemmetjies in klein spasies sal sy swak hart spoedig laat beter voel.

Met die dat ons die reistog eintlik met ‘n baie klein tot GEEN budget aangepak het, is die beste wat ons kan doen met betrekking tot vlugte, om via Addis Ababa en Gaberone die terugtog aan te pak. Ons maak dit darem veilig tot in Addis Ababa en nadat ons tevergeefs probeer het om spys en drank met ‘n kaart te betaal, blaas ons toe maar die aftog en stap deur sekuriteit om die volgende drie ure voor hek 17 te sit en wag. (Vir die wat ooit so braaf is om oor te stop op Bola lughawe in Ethiopië- onthou gerus dat kontant koning kraai daar! Dis Birr of niks!)

Kleinprins, vol vliegtuig coke en hotel tjoklits sukkel natuurlik om stil te sit na ‘n stywe 10 ure in ‘n baie baie baie klein spasietjie. Drie hekke se toeriste sit in een warm saal op baie ongemaklike stoele en wag vir vlugte. Kleinprins kry meer as een keer ‘n buffeloog. Hy is egter nie ou wat hom van stryk laat bring nie en hop ewe gelukkig van stoel na stoel om van sy ekstra energie ontslae te raak.

Dis so 5 minute voor ons moet begin reg maak vir opklim en ek maak net gereed om ‘n taai klap uit te deel toe Kleinprins se onrusbarende gil my van plan laat verander.

“My voet sit vas! Ek kan nie my voet uitkry nie!” gil hy histeries. Sy voet sit netjies en baie styf vas tussen twee stoele wat aanmekaar geskroef is.

Ek probeer draai en skuur en skuif en druk, maar voet bly sit in die gat! Geen mens weet hoe hy hom daar ingekry het nie, want duidelik is die gat te klein vir ‘n voet om deur te pas. ‘n Afrikaanse ou wat vroeër buffeloog uitgedeel het kom snel my te hulp, maar toe hy so die tweede keer aan die vasgekeerde voet draai, maak Kleinprins sy longe skoon en gil dat Addis Ababa weergalm.

En toe bars alle hel los. In wat soos sekondes voel is daar skielik ten minste 20 mans wat aan die voet ruk, planne maak, die stoel rondskuif, Kleinprins optel en weer neersit. Nou kyk, wanneer twee mans elkeen die beste plan probeer beraam is daar nog salf te smeer, maar as 20 mans van 20 verskillende gelowe, nasionaliteite en bevolingsgroepe dit probeer doen is daar nie genoeg salf in die heelal om die situasie te kan red nie. Kleinprins het intussen in ‘n mini histerie gegaan en gil nou dat volk en vaderland op aandag staan. Met ons hek wat intussen oopgemaak het en flink mense aan boord begin laai slaan ek al half in sweet uit. Maar hoe meer ek stres, hoe meer giggel ek. En hoe meer ek giggel hoe meer skree Kleinprins.

Grootprins, al gewoond dat Kleinprins altyd in een of ander penarie is maak ewe ‘n grappie (ek giggel immers, so dit kan seker nie so erg wees nie, reken hy later).

“Ons vliegtuig is hier Lennon, jy sal hier moet bly…”

Die onskuldige grappie bring die demoon in Kleinprins uit.

“Moenie my los nie. Jy kan nie my los nie. Mamma sal my nie los nie Aiden- ek is te cute om te los. Wahaaaaaa!”

Ek en Grootprins bars uit van die lag. Dit is die laaste olie op die vuur vir Kleinprins. Die geluide wat uit sy mond kom grens nou aan ‘n swanger vark wat wreed gemartel word.

Sekutiteit daag op. “Calm down, calm down!” Daar is egter geen kalmte wat gebeur nie. Kleinprins gil. ‘n Oom in ‘n rok pluk pluk aan Kleinprins se voet. Grootprins lag kliphard en ek giggel onophoudelik en probeer onsuksesvol om Kleinprins te kry om ten minste op te hou skree dat ek hom nie hier moet los nie. Die skare om ons het instussen seker gegroei tot ‘n duisend mense. (Ek wens ek kon sê dat ek oordryf, maar helaas!)

“We will cut the chair to free the foot!” skree sekuriteit bo-oor die gekibbel van die helpers.

“How long will that take-our plain is leaving in ten minutes?” vra ek met my stres-giggel nog baie vlak.

“Don’t worry mama, we will help you before the plain leaves.” Hy sê dit maar ek dink nie eers hy glo homself nie.

“Bring die chainsaw!” bulder Grootprins steeds dik van die lag. Ek hoop stilweg sekuriteit oorweeg eerder ‘n stuk gereedskap wat nie met krag werk nie!

“Die tannie daar oorkant sê julle moet dalk die room probeer…” Dis die Afrikaanse ou van nounou met ‘n houertjie handeroom in sy hand. Ek loer oor sy skouer. Die tannie- seker so in haar sestigs sit rustig en gee my ‘n vriendelike glimlag. Ek glimlag dankbaar terug.

Die oom met die rok gryp die room uit my hand en begin die voet besmeer.

Kleinprins lyk nou naby aan uitpass van die min asem wat oor is van al die gegil: “Nee, wat is dit?! Eina los my voet los my voet!”

Gelukkig verstaan die oom in die rok nie Afrikaans nie en wikkel flink voort om die voet te probeer bevry. En skielik pop die mildelik beroomde voet soos ‘n gladde vis uit die gat uit. Die skare van 1000 slaag ‘n duidelik hoorbare sug en ‘n paar klap selfs hande. Ek probeer die tannie van die room opspoor, maar dit blyk sy het reeds op haar vlug gaan klim.

Net soos wat die skare verskyn het verdwyn hulle weer. Ek bedank almal wat in my rigting kyk. Net vir ingeval hulle dalk betrokke was. Grootprins bars uit van die lag. Ek wil raas, maar my eie histeriese lag verhoed dat dit indruk maak. Die Afrikaanse ou maak hom sit langs ons. Hy sê niks nie, maar ek vermoed hy het homself nou aangestel as ons beskermengel. Ek is diep binne half dankbaar. Mens voel beter as ‘n ou wat jou taal praat aan jou kant is. Ek vermoed egter ook dat hy my stilletjies judge want probeer soos ek wil, die giggel wil my nie verlaat nie.

Grootprins maak ons sakke bymekaar en sê nou meer ernstig: “Mamma, mens kan die kind nêrens heen vat nie- asof hy nie famous genoeg in Kaapstad is nie, is hy nou wraggies famous in Addis Ababa ook!”

Ons het toe inderdaad darem ons vlug gemaak- beroomde voet en al. Aai- never a dull moment!

You Might Also Like