Huis Paleis

30th June 2017

Huis bou is nie perde koop nie. Baie soos trou. Ek en Bruidegom het nog net een keer baie lank terug die voorreg gehad om te bou en ek moet erken ons was heelparty keer baie spyt dat ons nie liewer  maar eerder ‘n perd gekoop het nie. Dis nie vir elke ou se sak bedoel nie. My bankkaart kry nou nog paniekaanvalle as ek voor hom praat van huisbou.

Maar ‘n eie eie eie huis is darem baie spesiaal. My Groorprins het help spykers inkap en Bruidegom en Broer (my eie persoonlike een) het die huis, van fondamente af tot eindproduk, self gebou.

Die familiesaambouery is natuurlik ‘n storie op sy eie. Sien, by die hek van die huis was ‘n goeie ou outydse bar (daai soort waar die ou local ooms en een tannie op skuld drink en dieselfde karre van vroeg tot laat  elke dag en nag altyd daar vasgenael bly staan)…maar natuurlik onder die skuilnaam Steakhouse.

En natuurlik is daar is gereelde vergaderings gehou in die Steakhouse om die bouery te bespreek. Omdat dit so bitter moeilike projek was het dit soms laat aangehou- dié belangrike noodsaaklike vergaderings. Sommiges het wel vroeg geëindig. Bedoeldende nou vroegoggend. Daai uur wanneer geen ordentlike mens meer die strate moet betree nie.

So het dit gebeur dat Bruidegom en Broer na een van die vroeë oggende, bietjie later daardie oggend moes kombuiskaste insit. (Net ter inligting- ek het baie groothartig aangebied dat die huis nie ‘n kombuis hoef te hê nie- ek het geen gebruik vir so banale vetrek nie!) In alle geval. Die fyner detail het nie regtig gebeur daai oggend nie.

Die spenskas het ‘n elektriese prop ingehad, maar die sirkelsaag wou nie saamwerk nie, so die gat in die kas is bloot met ‘n hamer en baie woede met gepaardgaande kopseer aangebring. Die slaaiwasbak het ook nooit gebeur nie en die pyp wat vir hom aangelê is was tot en met ons trek uit die huis vyf jaar later, met ‘n stuk lap toegehou om die dreinstank binne te hou. Nie noodwendige ‘n suksesvolle oplossing nie moet ek byvoeg.

Na twee jaar het ons ook besef dat die ingenieur of bourekenaar of argitek of wie dit ookal is wat belangrike goed besluit oor hoe die huis gebou moet word, nie noodwendig die skerpste in sy laai was nie en moes ons die hele huis (wat op stilte gebou was) weer oorstilt en versterk om seker te maak dat hy nie in die pragtige wit sand van die Suid Kaap verlore raak nie. Praat van ‘n bodemlose put!!

Die huis hier onder bespreking is al baie jare nie meer ons huis nie, maar ek dink baie gereeld met heimwee terug aan die huis. Want sien, ek was verlief op my kamer. Dit was ‘n absolute toweragtige spasie.

Die huis was ‘n houthuis, so saans as dit afkoel het die huis begin lewendig word. Met geluide en krake en die reuk van die seevog wat uit die mure ontsnap. Omdat die kamer bo was, het al die krake en geluide en reuke ekstra krag gedra. Daar was ‘n groot deur wat uitgeloop het op ‘n stoep en saans het die maan tot teen daai deur kom leun en ons uitgenooi om buite te gaan staan. So asof ons spesiaal was.

Ek het nooit gordyne in die kamer gehang nie, want die son het soggens baldadig deur die venster gebreek en ek het nie die hart gehad om hom te sê om uit te bly nie. En dan as mens die deur elke oggend oopmaak: die wonderlike stank van see en Melkhoutbome. My man het vele kere gevra dat ek asseblief tog óf gordyne moet hang óf van my nudistiese neigings moet ontslae raak. My buurman aan die oorkant was egter amper honderd, so ek het gereken hy kan waaragtig nie meer so vêr sien nie. En as hy kon..wel ek wou nie daaraan dink nie. Gordyne is dus/egter nooit gehang nie.

Die badkamer was deel van die ooplan kamer (‘n punt wat ons later besef het nie soveel praktiese waarde ingehou het vir voornemende kopers soos vir ons nie). Ek het saans in die bad gelê en Bruidegom op die bed en dan het ons gesels totdat ek ten minste drie keer die warm kraan moes oopdraai om die badwater net perfek te hou. En die bad! Die bad was fenominaal! Ek kon plat lê sonder dat my tone die anderkant raak. En in die dae voor waterbeperkings het ek hom volgetap dat die borrels tot onder my ken lê en kraak het.

Dit was ‘n plek waar daar geen geheime was nie. In die somer was dit koel en in die winter warm. Met ‘n ekstra kombers wat altyd reg gestaan het. Teen die muur het ‘n skildery gehang van ‘n stoel wat ‘n universiteitsvriendin wou weggooi en ek toe opgeraap het. Dit was een van haar flops, maar dit was vir my beeldskoon. (Hy’t intussen in daardie einste kamer opgemuf en ek moes onder dwang van hom ontslae raak jare later).

So toe skryf ek ‘n liefdeslied. Dit mag dalk klink asof dit ‘n liefdeslied vir Bruidegom is, maar eintlik is dit ‘n liefdeslief vir die kamer. Want dit was ‘n wonderlike kamer.

Wyle Christa Steyn het eenkeer gesê dis vir haar een van die mooiste liedere wat sy in ‘n lang tyd gehoor het en iets gemompel van hoe mooi die frase oor die ekstra kombers is…dit gebeur nie elke dag dat die vrou wat van die mooiste wysies in die wêreld geskryf het vir ‘n ou so iets sê nie, so die stukkie geskiedenis in die lied lê my natuurlik ook na aan die hart…

You Might Also Like