Daai versie iewers in die Bybel

21st September 2012

Vandag was een van daai dae. Jy weet een van daai waar jy so teen vroeg oggend al besef jy moes dalk liewer in die bed gebly het. Die krag was af toe jy opstaan, want jy’t vergeet om te koop, dus was die badwater koud en kon jy nie jou hare droogblaas nie! Maar jy wroeg maar deur die dag en hou daai horlosie fyn dop terwyl jou rekenaar skielik swart word en ‘n onaardse lawaai begin maak. Dit nadat jy hom gerestart het, want die printer het hom laat vries. Die printer is nou ook staan, met ‘n papier wat half in half uit vassit! Selfoon is natuurlik af, want met die die dat die krag af was het hy nooit gelaai nie…maar nou ja. Die lig aan die einde van die tonnel is…huistoegaantyd en daai versie iewers in die Bybel van God wat nooit jou las swaerder sal maak as wat jy kan dra nie…

Net gou die kinders optel by ouma. ” Hallo my kind. Ag voor jy loop kom help my net gou-gou met iets op my rekenaar toe. ” Dis toe nie gou-gou nie, want met die dat sy eers self probeer het, het ma so half die rekenaar net voor breek se draai gaan draai. Ek wil eintlik noem dat ek heeldag voor my eie (stukkende) rekenaar sit en eintlik glad nie nou lus nie, maar sy het my immers gebaar, ek is lief vir haar en ek sluk dus maar my woorde, want ek onthou daai versie iewers in die Bybel van eer jou vader en jou moeder…

Soos wat ek nader aan my hek kom, sien ek al die silouette van Elizabeth wat staan en wag. Ek stop maar want dit sal sekerlik ongeskik wees om verby te ry en te maak of ek haar nie sien nie, maar ek weet al: “Ag Yolandé, ek het nou my taxi gemis, kan Yolandé my nie maar gou Thembalethu toe vat nie?”  Weereens is die gou alles behalwe gou. En die kinders kerm, want eintlik was hulle nou reg om huis toe te gaan, nie reg vir ‘n trippie Thembalethu toe nie. Ek wil eintlik sê dat sy regtig moet ophou om haar taxigeld te gebruik vir ander goed as die taxi en dat sy my sommer al die oggend moet sê as sy beplan om haar taxi per ongeluk te mis, maar ek sê: “Ag shame man, klim in dan vat ek jou gou…” want ek onthou daai versie iewers in die Bybel van hoe jy jou naaste moet liefhê soos jouself…

Uiteindelik so skraps voor skemer, stop ek by die huis en is net reg om op die bank neer te val. Maar my oudste se geween red my gelukkig van daai gedagte. “Uhuh mamma. Jy het gesê ons kan playstation speel as ons by die huis kom!” (‘n omkoop belofte sodat die gekerm in die kar net kon ophou!!) Weer is dit nie net van aansit en speel nie. Met die dat die krag af was, het ek geen idee hoe om al die thingymegafters wat aan die tv sisteem gekoppel is te laat werk nie. Nadat ek elke knoppie aan en af gesit het, elke draad in en uit getrek het, die kas ‘n keer of wat geskop het (ter inligting:dit werk nie! nie eers as jy ‘n lelike woord saam mompel nie!!) is ek reg om te gil: “Ek is moeg en kwaai en geirriteerd, ek wens die verdekselse playstation wil gesteel raak!” maar ek sê: “Pappa is nou hier dan kan hy help en dan speel ons almal lekker”, want ek onthou my pa sê altyd iets van ‘n versie iewers in die Bybel van ouers wat nie hulle kinders moet vertoorn nie… (ek is nie seker wat vertoorn beteken nie, maar ek dink as jy op jou kinders gil is dit redelik vertoorngeid)

Gepraat van pappa. So terwyl ek nog die kas se deur probeer reg trek van die skoppery, kom hy by die deur in: “Wat eet ons vanaand?” ek probeer hard aan ‘n versie in die Bybel dink. Daar kom nie een op nie. Ek sê niks en verskoon myself om gou te gaan pieps. In die toilet is daar nie rekenaars, bediendes, kinders, mans of enige ander plae nie. lank nadat my ergste nood verlig is, staan ek nog nie op nie. En terwyl ek daar salig om my troon sit en rus, onthou ek die versie iewers in die Bybel wat vertel van die waters waar rus is…

 

You Might Also Like