Friends

23rd June 2017

Soms kry ’n ou een van dáái dae. Daai dae waar die wêreld jou maar kan insluk. En dan bel ’n ou ou ou vriend onverwags en sê dat hy jou mis en na jou verlang. En dan is die dag sommer beter. Toeval? Ek glo nie. Dit het so week terug met my gebeur en so die laaste week of wat dink ek onwillekeurig nogals gereeld aan die woordjie VRIENDSKAP.

Ek was gelukkig dat ek oor die jare net een vriendskap gehad het wat maar netsowel nie kon gewees het nie. (Maar selfs daardie onwelkome mislukte vriendskap, het my geleer hoe waardevol ander vriendskappe waarlik is en was.)

So deur my bipolêre “coming of age” het ek regtig fantastiese vriende gehad. Ek is deur ’n verantwoordelike stadium, deur ’n rebelse stadium, deur ’n dronk stadium, deur ’n geheelonthouer stadium, deur ’n selfversekerde stadium en deur ’n twyfelagtige wroegende stadium. In sommige van die stadiums het ék vriende agtergelaat- in sommige van die stadiums het vriende MY agtergelaat. Maar deur elke stadium het ek iemand gehad, wat soos ék gedink het, my ondersteun het, my soms van die pad af gestamp het en soms weer óp die pad gehelp het.

Ek glo werklik in my hart dat elke liewe vriend wat ek oor die jare oor my pad gehad het, bestem was. Daar was vriende saam met wie ek net kon stilwees. Daar was vriende met wie ek oor enige ding kon gesels- simpel drome mee kon deel, Daar was vriende wat net goeie vriende was na ’n halwe bottel brandewyn, en vriende saam met wie ek net tee gedrink het. Daar was vriende met wie ek kon gesels oor feetjes en wat laat in my hoërskool jare nie gedink het dis vreemd van my om ’n imagenary vriend in die boom voor my koshuiskamer te hê nie. (Hulle het dalk gedink dis vreemd, maar hulle was die tipe vriende wat dit vir hulleself gehou het. #dankbaar)

Daar was vriende wat meer as vriende geword het en toe verlore gegaan het as gevolg van die meer. Daar is vriende wat getroos het as die meer-as-vriende se vriendskap verlore gegaan het.

Van die vriende het my opgepas en gesorg dat ek veilig by die huis kom as ek dalk een of twee te veel gehad het in Bourbons, en sommige van hulle het saam met my een of twee te veel geneem in Bourbons.

Sommige vriende het gesorg dat ek ten minste Sondae ’n ordentelike bord gekookte kos inkry op Varsity en seker gemaak ek staan op vir belangrike toetse na lang nagte in die Totius (en soms lang nagte in Bourbons)

Sommige vriende het sáám met my musiek gemaak en sommiges het vír my musiek gemaak. Sommiges luister saam met my Tori en ander sing saam met my Boby McGee.

Party vriende verstaan my, ander het nie ’n clue nie, maar ten minste probeer hulle. Sommige vriende het gebly en sommige het verlore geraak. Party van die verlorenes het ek weer gevind. ’n Paar nie regtig nie.

Dan is daar natuurlik die elektroniese vriende op sosiale media- party het ek nog nooit eers in lewende lywe gesien nie, party is sielsgenote al bly ons op twee verskillende kontinente.

Daar is vriende dubbel my ouderdom, en sommiges wat maar vir my tannie kan sê….Daar is nuwe vriende en ou vriende. Vriende wat net kort oor jou pad kom en dan die, wat dit waarkynlik gaan uitstick tot die bitter einde. #ofeknouwilofnie

Vanoggend heel toevallig loop ek twee ou vriende raak. Ons het nie meer veel in gemeen nie, en van dit wie ons was 20+ jaar terug, is nie veel oor nie- maar tog los dit jou met ’n warm tipe heimwee….’n gevoel van behoort…

Ek is natuurlik gelukkig dat my heel beste vriend en die een wat deur AL die bipolêre jare nooit veel verder as ’n klipgooi vêr was nie, uiteindelik my man geword het…en altyd net voor ek hom wil skei, gee ek een tree terug en onthou die vriend wat hy vir my was en steeds is…#truestory

My geheelonthouer jare is gelukkig verby- so ek drink vanaand ’n glasie (egter net een want dankie tog my dronk jare is ook verby) op al my vriende. Oues, nuwes, goeies, slegtes…die hele ou spul van julle! Tjorts!

You Might Also Like