En die grootste hiervan is die liefde…

28th June 2017

Daar is baie dinge in die wêreld waarvoor ek dankbaar is. Musiek. Goeie koffie. Woolies se 70% tjoklits.

Vreemde goete wat ek nie eers in die minste verdien nie. Geleenthede wat oor my pad kom uit die bloute. (Wie op aarde wen ’n trip Parys toe!?) Gesonde familie. Oulike kinders. (wel meestal) Maar ek dink die grootste dankbaarheid is vir die liefde.

Ek kyk om my rond en sien hoeveel mense in liefdelose verhoudings gedompel is. Dit is vir my verbysterend hoeveel couples (getroud en ongetroud) REGTIG nie van mekaar hou nie. Nie eers ’n bietjie nie. Nie eers op goeie dae nie. En terwyl ek kyk besef ek hoe gelukkig ek is. Want ek is.

15 Jaar terug voor Man en ek getrou het, het ons dominee (wat ook ’n kranige voëlkyker was- hoe bizarre dat dit al is wat ek van sy preek onthou)…in alle geval… het ons dominee ons gevra om mekaar se voete te was. Dit was bietjie akward want ek dink my voete het nie vreeslik vars geruik na ’n lang dag in boots nie.  Wou die man ons huwelik in die hek laat duik nog voordat dit begin het?

So destyds was dit vir my ’n vreemde versoek van ’n ewe vreemde dominee. ’n Tipiese jong dominee ding om te doen. To impress the couple you know. Hy het verduidelik dat wanneer ons ooit voel dat die een se mening belangriker is as die ander, ons die gebaar moes onthou. Hoe Jesus die voete gewas het van die wat hom leed sou aandoen. Hoe Hy Homself nie belangriker as enige van die gaste aan Sy tafel geag het nie. Toe het die gebaar vir my nie veel beteken nie. To say the least was dit bietjie weirderig.

Maar oor die jare het ek begin verstaan. Want saam met die grysheid kom die wysheid. (hoe’s dit vir ’n relevante oneliner!)

En sedert daardie dag was ek en Man mekaar se voete allewig en mag ek byvoeg, aansienlik meer as wat ons sou wou. Al is dit net simbolies. (Diep!)  Elke keer as ons terug tree en onthou hoekom ons in die eerste plek vir mekaar lief geword het.

Ons is nie noodwendig geduldig met mekaar nie, ons hoop, glo en verdra mekaar definitief nie altyd nie. Soms verpes ons mekaar. Meer as gereeld wonder ons hoe ons kinders so fantasties uitgedraai het – met ons twee aan die stuur wat obviously bo-gemiddeld clueless is. Ons skree soms, huils soms en vergewe soms nie maklik nie. Maar ons was mekaar se voete. In die lekker tye en selfs (en veral) in die nie-so-lekker tye.

Hy was my voete wanneer hy weet ek ’n lang dag gehad het en hy die kinders iewers heen laat verdwyn in die aand- al was sy dag langer. Hy was my voete wanneer hy Saterdae opstaan en vir my koffie maak al haat hy vroeg opstaan. (Koffie is groot in ons huis. Baie van die skree en verpes was inderdaad al oor koffie). Hy was my voete wanneer hy die laaste olyf in die bord vir my gee. Wanneer hy sy beste happie steak vir my gee…

Wanneer hy my bemin wanneer ek kwaai en uitgewas is. Wanneer hy sy raas sluk as ek die koffiemasjien se melkbeker nie uitspoel nie. Wanneer hy my kar laat diens omdat ek te verstrooid is om dit te doen al het hy my al twintig keer herinner. Wanneer hy wegglip soggens by die werk al is hy super besig, net om saam met my koffie te drink omdat ek hom mis. Wanneer hy my laat sing en shows hou al maak dit my armer eerder as ryker. Wanneer ek gemeen is sonder rede en hy (rooi in die nek) stilbly. Wanneer ek dom stuff doen en hy dit moet fix. En dit dan fix. Wanneer ek huil en hy weet hoekom sonder om te vra….

Hy is vir my soos die eerste reëns na ’n lang droogte. As mens die stof in jou mond begin proe en jy weet die eerste druppels gaan enige oomblik val en kort daarna gaan daar wilde blomme opkom en dammetjies gaan orals spontaan opslaan met paddas en stuff wat mooi musiek maak snags.

Hy is vir my soos wanneer die son ondergaan oor die Weskus. En die heerlike soutsproei opslaan en vassteek in jou neus. En jy bly is, maar nie seker is hoekom nie. Want die see het ’n magiese krag wat almal in die omgewing aansteek met optimisme.

Wanneer hy my bemin is dit asof hy al my drome in sy hand hou en bewaar sodat ek dit later kan vrylaat en vlerke gee. En wanneer ons wals hoor ek hom sing soos iemand wat Engele in sy mond het- met sy kop in my nek gebêre. En hy sing : ”this waltz this waltz this waltz….”

Liefde sonder pretensie, dimensie, grense….’n liefde wat so deel is van my dat ek dit nie kan verduidelik nie. Hy is so deel van my dat ek my bestaan sonder hom nie kan indink nie. En ek dink hoe dankbaar is ek oor alles in my lewe, maar veral vir die liefde…

En al die baie nuttelose informasie net om te verduidelik waar die song vandaan kom…:-)

 

You Might Also Like