Die groot K skrik

11th August 2014

Kyk ek het nou al oor die jare agtergekom, ek is nie soos meeste vrouens nie- ek dink so bietjie anders, voel so bietjie anders en doen dinge so bietjie anders as die meeste vroue wat ek ken- MAAR een ding weet ek deel alle vrouens- maak nie saak hoe aweregs jy is nie. ALLE vrouens sien op na daai veelbehate ginekoloog besoek!

Maar kom ek begin my storie by die begin. Met die dat ek so half aweregs is (my man noem die Kruger-van Niekerk hardkoppigheid) sien dokters my nie eintlik nie. Ek verstaan nooit hoekom mens vir jou GP R600 moet gee net sodat jy haar kan vertel dat jy verkoue het nie…

ALLE geval- so 2 maande terug sê ek vir my man: Ek kan nie my vinger daarop lê nie, maar ek voel net nie great nie. (Dit- en daar was ‘n karbonkel so groot soos ‘n Bloubul ego op my linkerwang). Wel ek weet dis nie verkoue nie, so ek raap en skraap toe maar die R600 bymekaar en maak die afspraak. My dokter is nie juis seker wat om vir my te sê nie- met die dat ek nie regtig die simptome kan uitdruk nie. Die enigste simptoom (behalwe die karbonkel so groot soos ‘n Bloubul ego op my linkerwang) is immers: Ek voel net nie myself nie. So gee sy maar toe antibiotika vir die karbonkel (ons almal weet nou al hoe groot en presies waar hy was!) Meer om my te paai vat sy toe ook genoeg bloed om my duiselig te laat vir ‘n na-middag.

‘n Week later laat weet sy dat my bloedtoetse perfek is en dat ek dalk maar net bietjie te veel stres- dié dat ek nie myself voel nie. Maar soos altyd luister ek nie eintlik nie en besluit- as dit niks gewoon is nie, moet dit hormone wees. Want iets is daar iets!

My ginekoloog in George was vir 10 jaar my ginekoloog en het albei my kinders gevang- so mens verloor naderhand die ergste weirdness en raak half vetroud met die man wat so in jou basement (soos my man dit noem) werk. Dis baie soos ‘n mechanic– as jy een kry wat jy kan vertrou dan is hy jou mechanic for life.

Die groot probleem is egter dat George nou 500 kilometers van my voordeur af is. So ek moet ‘n nuwe ginekoloog kry! Ek google, vra vriende- jissie maar ek sien op! Kry uiteindelik een wat ‘n vriendin voorstel en is wesenlik verlig toe dié my eers oor 4 maande kan inpas in haar dagboek.

Maar soos geluk dit wil hê bel nuwe dokter se ontvangsdame so twee weke terug en sê daar was ‘n kansellasie en hulle kan my 2 maande vroëer inpas. (Ek moet ook onthou die eerste afspraak is streng kontant. R1400.) Goeiste. Ek wil nog ‘n liegstorie uitdink, maar ek kon nog nooit goed op die spot jok nie en stem toe maar in. So reël ek dat paps babysit (nie sonder verwyte nie) en ek trek my dorpspakkie aan, vee ‘n laaste keer met ‘n wet-wipe al die deeltjies wat bekyk gaan word en karring af ginekoloog toe. (Ek stop langs die pad by FNB en trek met ‘n effense wroeging die 14x R100 note!) Dubbel goeiste!

Nuwe dokter is oulik. Sy sal maak vir ‘n goeie mechanic. Sy verseker my alles werk 100%, doen ‘n papsmeer sommer net omdat ek vier jaar laas een gehad het en vertel my van die wonderlike nuwe uitvindsels wat tans op die mark is om vroue se lewens beter te maak. My Mirena se tyd is verby en ek moet nuwe planne maak om te sorg dat ons nie per ongeluk nog ‘n Lennon kry nie!

As ek seker is dat Lennon my laaste is (sy het hom nog nie ontmoet nie!), is daar nou ‘n maklike nuwe manier om mamma se fabriek vir altyd te sluit en die maandelikse lastigheid wat saam met Eva gekom het die hok in te jaag, sê nuwe ginekoloog. My eierstokke klap hande. Ek wil dit hê! Ek wil dit hê! Klein prosedure, dis pynloos en die prosedure is net 10 minute. Te goed om waar te wees! Sal seker darem net eers verby paps moet run en seker maak hy is ook aanboord met die nuwe verwikkeling.

Die besluit begin egter aan my te knaag. Daar is ‘n tipe finaliteit daaraan om te dink jy kan nooit weer kinders kry nie- al het jy al twee (wat soos vier) voel. So ek bel haar nog nie om die afspraak te maak vir die “prosedure” nie. Paps sê dis my lyf ek moet besluit…so ek herkou toe maar…Ek besluit om haar vanoggend te bel en die afspraak te maak….Sy spring my egter voor…

“Ek het jou papsmeer resultate terug gekry en daar is ‘n effensie ietsie waaroor ek bekommerd is…” Nou daai is die tipe woorde wat jou duiselig maak as enige iemand wonder. Ek is nie dood nie, maar my lewe flits by my verby. My vingers raak dood. “Aha” sê ek. Flip- wat anders moes ek sê?

Abnormale selle . Op vlak 4 is dit servikale kanker- myne is gelukkig nou eers vlak 3. Maar as ek dit los (vir selfs nog ‘n paar maande) sal dit vir seker ontaard in kanker. Tans skadeloos. Ons moet egter so gou dit vir my werk die selle elimineer. Klein prosedure, dis pynloos en die prosedure is net 10 minute. “Aha” sê ek weer.

My les. Luister na jou sesde sintuig. Luister na jou lyf. Maak daai afspraak. ‘n Maand kan klaarblyklik dié verskil maak. Gelukkige vrouemaand!

You Might Also Like