Die dag toe ek my kinders wou weeshuis toe vat…

23rd May 2014

Okay- ek jok so effe in die opskrif- daar was nie EEN spesifieke dag nie. Met my Grootprins gebeur dit so een maal elke twee maande dat ek hom daar wil gaan aflaai. Met Kleinprins- meer in die omgewing van drie keer per dag!

Vir die wat gedink het kinders kry en grootmaak is kinderspeletjies, maklik en magies- dink gerus weer! Dit begin alles sodra die troumars sy laaste orreklanke laat afsterf het in die vêrte!

“Kinders by dosyne!” sing die trougaste.

“Ons wil darem nog jonk genoeg wees om ons kleinkinders te geniet…” sê die toekomstige ouma.

“Julle sal moet begin werk aan ‘n maatjie vir Gertjie…” sê die niggie (wat jy na jou troue nog nooit weer gesien het nie…)

“Julle weet nie wat julle mis nie- ‘n mens se lewe is leeg sonder kinders…” sê die vreemde vrou wat soos ‘n uitgewasde handdoek lyk. (Moet deel wees van die nuwe skoonfamilie.)

So een oggend word jy wakker en val vir al die (wolhaar)stories- hoek, lyn en sinker. Jy gee al jou slegte gewoontes op voor jy swanger raak. Jy rook nie meer nie, jy drink nie meer nie, jy eet gesond! Met die eerste kind doen jou man al dié dinge saam met jou. Teen die tweede kind weet hy van beter. Net een ouer op ‘n slag kan sonder drank en/of nikotien die dag aanpak!

Sodra die twee blou strepies hulle opwagting maak, begin die oggend naarheid. Met die eerste kind dra pappa liefdevol droeë beskuitjies en swart tee aan. Teen die tweede kind weet hy van beter. Hy maak hy hom so spoedig moontlik in die oggend uit die voete!

Een oggend stop die naarheid. Wonderlik! Maar net vir een dag- want ‘n swangerskap is darem nie volmaak sonder sooibrand nie.My laaste opgooi is gewoonlik so uur voor die keiser.

Dan een oggend kyk daai ogies die eerste keer vir jou en jou hart smelt en jy is oorkom met liefde, dankbaarheid en weet jy kan die wêreld wen met die nuutgevonde braafheid in jou hart.

Vyf dae later sit jy op die toilet en huil vir vyf ure terwyl prinsie sy longe uitskree in sy kot. Jy bid dat sy pappa opdaag voordat jy saam met prinsie in die see gaan spring.

“Baby-blues..” sê die manlike dokter wat eintlik in sy hart glo dat jy net ‘n teelepel sement kort. “Niks wat ‘n pilletjie nie kan beter maak nie…” hy gee ‘n fake glimlag want hy weet nie lekker wat om met jou tranerige gesanik te maak nie…

Jy vee die poef af, jy haal die winde uit. Jy ruik meeste van twee jaar soos opgooi en maak of jy dit nie weet as kliente jou vreemd aankyk en liewer aan die oorkant van die tafel gaan sit nie.

Die min slaap maak jou ‘n monster. Jou man wil jou skei en jy wonder wat het jou besiel. En dan begin dit weer…

“Kinders kan darem nie so alleen grootword nie…” sê die vreemde ou tannie in Checkers se betaalry…

Jy vat die naarheid en die sooibrand en die lyfpyne..en saam met dit kom die Grootprins se nuwe geit: Die befaamde Vloermoer! So met ‘n pens soos groot soos ‘n kar en een kind skreeuend oor jou skouer gegooi stap jy sonder blik of bloos deur Checkers se rye en shop vir kos wat jou nie gaan sooibrand gee nie…Daar is ‘n paar mense wat jou met jammerte aankyk. Die sonder kinders wens hulle kon jou kind VIR jou maniere leer…jy wens ook so. ‘n Oom met seiljag dek tekkies en ‘n stridas sê hard en duidelik (want die hele Checkers EN ek moet hom darem hoor.) “Why don’t these people just leave their kids at home… and teach them some manners before they bring them into public…you know THIS is exactly the reason I never wanted children!

En op daai sekonde verander die jammerte wat ek vir myself voel in ‘n intense jammerte vir die oom.Wat ‘n leë gat moet hy nie in sy siel hê nie. En die ergste is- hy weet dit nie eers nie. En dis net nie iets wat jy kan verduidelik vir mense sonder kinders nie…

Ja ek wil hulle vir die weeshuis persent gee, en ja hulle maak my woedend, en ja hulle het baie keer baie slegte maniere, en ja dis nie maklik nie, en ja ek mis om uit te gaan en rooiwyn te suip tot ek omval, en ja ek mis om volsinne met my man, die liefde van my lewe te praat. Ek mis laatslaap en grootmens movies. Ek mis om te piepie sonder ‘n audience en ek mis om alleen lang bubblebaths the vat. (my jongste bad nog saam met my…) Ek mis om in die kar te spring en lang roadtrips te vat op die ingewing van die oomblik. En ja ek wens al die SPURS in die wêreld wil afbrand (#didisaythatoutloud).

Maar sonder my kinders? ‘n Hele leeftyd lank? Ek sterf liewer. Hulle maak my kwaad en hartseer en bang en woedend en van my kop af. Hulle maak my gelukkig en trots en braaf…en oud! Hulle is my asem en die rede vir my bestaan.

Wil ek hulle regtig by die weeshuis gaan aflaai? ABSOLUUT. My Grootprins so een maal elke twee maande en Kleinprins- meer in die omgewing van drie keer per dag!

You Might Also Like