Browsing Category

KORTVERHALE

Hoop

29th January 2018

‘n YOLANDE STRAUSS kortverhaal

Sarel staar na die laaste stukkies blare wat aan die ry Bougenvillas se verdorde takkies
klou. Marié het dit self geplant. Sy het gereken dat as sy dan hier op die vlaktes moet
bly, dat sy dit netsowel kon mooi maak. Hy het die plaas veertien jaar terug geërf.
Marie was swanger met Hoop. Tien jaar gewag. Eindelik opgegee. En toe kom Hoop.
Marié wou eers niks van die plaas weet nie. Hulle lewe was in die dorp. Kon Sarel nie
maar soos altyd net elke dag plaas toe ry en sy boere boer nie? Maar die plaas was
deel van wie hy was. Dit was deel van die man op wie Marié verlief was. Sy het
geweet dat as hy nie op die plaas kon bly nie, sy hom sou verloor. Maar die noodlot
het hom ‘n streep getrek. Skaars ‘n jaar na Hoop se geboorte is Marié gediagnoseer
met kanker. Ses maande daarna was sy weg. Sy het hom en Hoop hier op die plaas
agtergelos. En Hoop was al wat hom al hierdie jare staande gehou het. Tot vandag.
Vandag weet hy nie of hy kans sien vir wat op hom wag nie. Die laaste lewe is nou uit
Marié se Bougenvillas uit. As die laaste blare geval het, kap hy dit uit. Hy kan nie
elke dag nog aan sy dooie vrou ook nog herinner word nie.

Die reën is nou al weg vir meer as twee jaar. Hy het ophou tel. Aan die begin kon hy
regkom met sy boorgat en sy halfvol damme. Hier en daar het ‘n buurman uitgehelp
met voer vir die beeste. Maar die bure se hulp het al minder geword soos hulle eie
beeste begin maer word het. Die stukke grond met rooigrond wat al meer word kan hy
nog vat. Die gras was stuk-stuk verdwyn. Maar die kyk in sy beeste se oë. Die bene
wat al amper hulle dowwe velle begin stukkend steek. Dit is bloot te veel vir hom.

Tsepang was vroeër hier. Tsepang boer al vir veertien jaar aan Sarel se sy. As seuns
het hulle saam kleilat gespeel in die naaste kamp se dam. Saam pakslae gekry as hulle
die hekke oopvergeet het. Saam gesien hoe die plaas kwyn onder die droogte. As
Sarel geweet het Hoop sit in die gang en afluister sou hy sy woorde beter gekies het.

“Ons gaan die beeste moet skiet Tsepang. Hulle lei. Selfs die bietjie modderwater in
die damme is op. Ek weet nie wat anders om te doen nie. Van die osse staan nie eers
meer op nie.”

Tsepang het verstaan. Hy sou sorg dat die beeste teen skemer moreaand almal in een
kamp is. Sarel sal by Heinrich nog patrone moet gaan leen. Daar is nie genoeg in die

kluis nie. Hy sal dat die jonger plaaswerkers solank die grafte begin grawe. Alle hoop
is daarmee heen.

Hoop het vervaard met haar tingerige dertienjarige lyf ingestorm gekom en hom met
haar vuiste begin aanval.

“Jy kan nie ons beeste skiet nie pa. Ons sal ‘n plan maak. Ons kan ‘n plan maak!
Hulle is ons familie pa!”

Hy het nie eers geraas nie, want in Hoop se kop was dit alles die waarheid. Hy het
haar laat klaar slaan en haar vasgehou tot haar trane klaar gehuil was. Sy het later die
pad gevat in die veld in. Hy het haar laat begaan. Sy ken die plaas so goed soos hy.
Hy het nog altyd geweet dat hy nie ‘n seun nodig gehad het om die plaas eendag te erf
nie. Hoop kan ‘n trekker so goed as enige van sy werkers ry. Het met haar dun
armpies al bale help aflaai van die trok af. Sy ry saans saam as hy die drade gaan
ondersoek en is die enigste een op die plaas wat weet hoe om daai wispelturige
draadhek in die bo-kamp oop en toe te kry sonder beserings. Maar as die beeste eers
weg is sal daar nie veel wat oorbly vir Hoop om te erf nie. Heinrich het hom ‘n
posisie by die kooperasie aangebied. Hy en Hoop sal moet dorp toe trek.

****

D-dag. Waar sy krag vandaan gaan kom weet geen mens nie. Hy dink bitter dat hy
kon sê die son trek water, maar hier is waaragtig nie een druppel vir die son om te trek
nie. Hoop het na ontbyt verdwyn en nog nie weer haar verskyning gemaak nie. Ook
maar beter so. Geen dogter van haar ouderdom behoort te sien wat vandag op hierdie
plaas gaan gebeur nie. Die dreuning op die dak ruk hom vir ‘n oomblik uit sy eie
gedagtes uit. Dit klink soos…reën? Dis tog nie moontlik nie. Hy weet want hy hou
elke dag elke liewe weerstasie se voorspellings soos ‘n valk dop. Maar water op ‘n
sinkdak is nie iets wat ‘n ou jou sommer net verbeel nie. Oppad voordeur toe vang sy
oog die oop venster. Water kom in emmers vol van bo af. Die wind het opgesteek en
van die water waai by die oop venster in.

Eers raak hy woedend en toe tref ‘n angs hom. Hoop staan vierkantig in haar spore op
die dak met ‘n tuinslang. Sy spuit dit met groot hale van links na regs oor die dak en

erf. Die meisiekind staan hulle laaste bietjie water en uitspuit asof daar kiloliters te
spaar is!

“Hoop, draai toe daai kraan. As jy vandag daar afneuk vergewe ek jou nooit. Hoor jy
my!”

Maar Hoop staan vas asof haar lewe daarvan afhang. Sy lyk amper half verspot met
haar vellies en kortbroek terwyl sy soos ‘n wafferse brandweerman die tuinslang heen
en weer waai.

Sarel stap doelgerig op die tenk af en draai met moeite die kraan weer toe. Hoop klim
egter nie af nie. Sy oë soek na ‘n manier om op die dak te kom.

“Hoe’t jy daarbo gekom?” vra hy kwaaier as wat sy intensie is.

“Teen die tenk opgeklim.” Die meisiekind gaan hom nog grys hare gee.

Sy ou lyf ken nie meer van klim nie en dit vat ‘n paar probeerslae om op die dak te
kom. Die sweet loop teen sy nek af en sy asem is kort en brand in sy keel.

“Wat is jy besig om te doen Hoop? Jy weet tog van die water…jy verstaan tog…”

“Hoe het pa gevoel to pa die reën op die dak hoor?”

Hoop is duidelik onbewus van hoe Sarel sy woede tans moet inhou. Hy kyk haar vir
‘n paar oomblikke in die oë. Hy besef skielik dat hierdie nie net sy las is nie. Hy sien
die donkerte wat dreig om oor te vat agter haar blou oë. Sy hart versag.

“Ek weet nie. Ek dink ek het vir ‘n oomblik…hoop gehad.”

“Gister toe pa met Tsepang gepraat het. Pa het moed opgegee. Hoop verloor. Ek wou
pa net laat voel hoe hoop voel. Ek dink pa het dalk vergeet.”

Die meisiekind verstom hom. Nes haar ma destyds.

‘n Koel briesie waai Hoop se lang hare oor haar wang. Van die dak af sien ‘n mens
die hele plaas. Sarel en Hoop staar nou albei na die stof wat in die vêrte aankom. ‘n
Stuk of vyftien vragmotors kom oor die bult aangery. En agter hulle sien Sarel swaar,
donker wolke. En donderweer. Is hy besig om sy varkies te verloor. Die hitte van die
dak maak hom sweerlik drogbeelde sien.

“Ek het op die internet gesien van mense wat voer verniet bring vir boere soos ons pa.
Ek het hulle gebel gister. Hulle vertel van ons plaas. Van die beeste wat geskiet moet
word. Hulle bring kos vir die beeste pa.”

“Sien jy die wolke Hoop. Daai is reënwolke as ek al ooit reënwolke gesien het! Die
weer het niks voorspel nie. Sê my jy sien ook daai wolke Hoop.”

“Na ek die voer-mense gebel het, het ek gebid pa. Ek het ma gevra om te help.”

Sarel kan ruik hoe die stofreuk nou in sy neus opslaan. Die water is selfs nader as wat
hy besef het. Die eerste druppels val nog voor Hoop en Sarel se voete grond vat. Die
reën bly vir twee weke. Die plaaspad is verspoel en die drade het amper almal
omgeval. Maar Sarel kla nie. Die beeste begin weer opstaan. Hulle bene nog
wankelrig soos kalfies s’n, maar hulle staan. In die koerante en oor radiostasies gons
dit oor die vreemde weerverskynsel. Niemand kan verklaar waar die skielike reën in
die area vandaan gekom het nie.

Hoop sit op die stoep in die reën. Sy glimlag toe Sarel haar onder die dak inroep.

“Jy soek vir longontsteking meisiekind” raas hy halfhartig.

“Dink pa ma se Bougenvillas sal weer groei?” Hoop kom maak haar tuis onder sy
arm. Sy ruik na modder en plaas en water.

“Ek weet nie. Maar ek het ‘n waardevolle les geleer die laaste twee weke. Daar is
altyd Hoop. En ek dink dis genoeg.”