Boogie is gebreek…

4th February 2016

So uiteindelik is daar ‘n internasionale band wat in Kaapstad kom speel wat ek min of meer kan verdra. Ten duurste koop ek en Bruidegom op nommer 99 kaartjies. Ons sal huiskoop vir eers moet uitstel- die kaartjies sit ons ‘n hele paar rande terug.

“Waarnatoe gaan julle?” vra die Prinsies.

“Ons gaan boogie” sê ons.

“Julle is te oud om te boogie!” sê Kleinprins

“Jou hele alie man- ek is nog nie eers 40 nie” sê ek bekommerderig want ek is bang hy is dalk reg…

“Mamma! Jy kan nie eers tot 9 uur in die aand wakker bly nie en die band begin eers 10 uur speel!” Jy gaan slaap nog voor hulle opkom!”  las Grootprins sy 5c by.

Mmmmm…dit kan dalk problematies wees. Ek koop dus maar 3 sakkies Bioplus (een doen lankal nie meer die ding nie!) Ons besluit egter om die voorprogram ‘n mis te gee- want wie wil nou van 3 uur in die middag af al in die son sit (Ek 20 jaar terug, maar nouja!)

Ek en Bruidegom val dus so 7 uur in die pad, stop eers vir ‘n enkel bier en sushi en so teen kwart voor 10 (die Bioplus help!) stap ons opgewonde af na die groot konsert toe vir ‘n aand van boogie.

Geen kontant of kaarte word aanvaar nie, so ons moet ‘n voorafgelaaide kontantkaart koop by die hek.

“Daai drank ry lyk baie lank…” prewel ek.

“Ja” sê Bruidegom. “Kom ons los die kontantkaart en durf die aand maar nugter aan…” Die Bioplus en nounou se bier laat my instem…as ons drink gaan ons dalk later nog daai toilet ry ook moet aandurf! Dit sal nie deug nie.

Ons veg ons weg oop tussen 20 000 baie dronk twentysomethings.

In die middel rond sien ek iets wat soos ‘n oopte lyk en ons kies koers- daar aangekom besef ons dit was slegs ‘n illusie…een groepie mense het net bietjie gaan sit om te rus. Ons besluit egter dat dit waarskynlik die beste is wat ons gaan doen op ‘n aand soos dié en plant onsself knus in ‘n klein ooptetjie.

Ek ignoreer die effense beklemdheid wat wil-wil kop uitsteek…dis darem baie asems vir so klein spasie?

10 Uur kom en gaan, maar geen band maak sy opwagting nie. My Bioplus begin al so bietjie uitwerk. Iets sal moet gebeur. En gou! Teen halfelf  lê ek al op Bruidegom se skouer en probeer met my een oop oog opgewonde lyk oor die groot avontuur. Daar is ‘n effense beweging en opgewondenheid toe ‘n man in swart op die verhoog verskyn.

” Due to the strong wind that just started we are currently working on some safety issues…blablabla…”. Die skare murmer en drink verder. Ons besluit om ook maar te sit. Dis knapperig. Die reuk van opgooi hang in die lug en ek voel-voel versigtig my weg oop tot op ‘n sitgaatjie wat droog en skoon voorkom. Langs ons probeer ‘n groepie opgewondes om ‘n slow clap aan die gang te kry, maar dis al kwart voor elf en die meerderheid voel tans nie die slow clap in hulle bene nie. Teen 11 uur val ‘n besope groepie jong mans in met een van die band se treffers…

“I will wait, I will wait for youuuuuuuu!” Weereens kry hulle nie die skare se samewerking nie. Al wie nou die aand sal kan red is die band hulleself! Ek voel-voel in my handsak of ek nie dalk nog ‘n verlore Bioplus daar iewers voel nie…

Net toe ek gereed raak om Bruidegom te oortuig dat ons dalk maar die groot konsert ‘n mis moet gee (dis al immers kwart oor 11), kom daar ‘n swetsende jong man en sy kitaar die verhoog opgestrompel…die skare gaan so tekere dat ons toe nou nie regtig eers sy verskoning hoor nie. Die skare gaan mal. Al die sittendes begin opstaan. Die twee knape voor my het skielik 7 voet lank geword en van ‘n verhoog en enige van die band se ouens gaan ek nie vanaand een stukkie te sien kry nie. Die band val in met hulle I will wait lied en die besopes langs my raak mal van genot.

Daar is net 3 cm oop tussen my en 7 voet manne, maar ‘n jong dame met baie hare vind haar gaatjie daar. Haar bier spat-spat op my arms soos wat sy heen en weer wieg. En toe begin die gespringery. Op en af. Op en af. Op en af. Dis om van seesiek te raak. En met elke af kry ek ‘n bos hare in my mond. 7 Voet man skud sy stompie se as op my skouer af. Valsdawie sing uit volle bors die verkeerde woorde en soos wat dit vir my klink dalk die heel verkeerde lied…

Die klank is so-so. Ek sien geen verhoog of grootskerm nie, en na drie liedjies besluit ek om my trots in my sak te sit en die aftog te blaas. Ek is te oud om te boogie. Kleinprins was reg. The boogie is broken!

Ek hoef Bruidegom nie eers te oortuig nie. Soos blits is hy reg om saam die aftog te blaas. Ons veg ons weg oop deur die besopes, die slow clappers en ‘n paar ander twyfelagtige karakters. Waar is die mense se ouers!?

Na wat soos ‘n ewigheid voel bars ons skielik in ‘n oopte in en ek haal vir die eerste keer die aand my longe vol asem. Soos wat skares maar is het almal verhoog toe gedrom en aan die kant van die skare is daar ‘n heerlike oop spasie. Die klank is fantasties. Ons sien meeste van die band en albei bigscreens gemaklik. Niemand wip op en af nie. Niemand blaas rook in my gesig nie. Geen bier val op my nie. Die musiek is beautiful. Van hier af hoor mens die fiddle en brass section baie beter. (Dalk omdat Valsdawie nie meer naby is nie). Ek en man gaan sit (met BAIE spasie to spare). Die groot klok van die kerk langsaan slaan twaalfuur. Dis 30 grade. Die berg is verlig en die wind het gaan lê. Die aand is magies soos dit net in die Kaap kan wees. Ek en Bruidegom sit soos ou verliefdes en luister.

“But love the one you hold
And I’ll be your goal
To have and to hold
A lover of the lights”

Die band eindig af met dromme wat omgegooi word, die pianis wat in ‘n fit gaan, vlamme wat uit die dak kom en ons juig saam met die besopes, slow clappers en twyfelagtiges.

Ons besluit om die encores te mis en ons pad te vind na die uitgang toe. (Hier in mens se laat dertigs begin mens slim goed te doen soos om voor die skare van 20 000 by jou kar uit te kom- dit gebeur spontaan en sonder waarskuwing- dit gaan by name gesonde verstand. Mens het dit nie in jou twintigs nie- al dink jy soms so.) Soos ons na ons kar stap hoor ons die band hulle laaste beste gee. Kaapstad se strate weergalm van hulle pragtige geraas. Ek voel jonk, maar my gape verklap my ou bene. Ons ry met oop vensters huis toe om die slaap te veg. Dis al vêr na een toe ons by die huis stop.

“Het jy lekker geboogie vrou?” vra Bruidegom.

“Ek het heerlik geboogie” sê ek oor ‘n gaap.

Ek slaap gou en diep…en toe Kleinprins sesuur op my spring die volgende oggend besef ek opnuut…ek is nie meer twintig nie. Thank heavens en good riddance!

You Might Also Like