As Mamma oorlslaan Swenglish toe…

8th August 2017

Ons almal het daai een vriendin (of dalk vriend- laat ons nou die veralgemeen nie né). Hulle weird jou so bietjie uit want jy sweer hulle het ‘n kamera iewers in jou huis versteek. Daai een wat jou uit die bloute epos, bel, whatapp of sms as jy in die donker dal van doodskaduwees iewers in ‘n gat wegkruip vir die wêreld. (Al wat kort is die hadida wat sy angs oor die vallei roep en jy is ‘n gonner.) En sy weet dit net sonder dat jy of iemand anders haar gesê of selfs kón gesê het. En sy weet dit ELKE keer. Al vir meer as twintig jaar. En dan vra sy heel onskuldig: “so hoe gaan dit?” Pft! Want sy is #freakylikethat. Wel ek het so een. En toe trou daai een. In Holland van alle plekke.

My Bruidegom wil saam, maar het ‘n regte werk. Nie soos ek wat net speel-speel werk(e) het nie. Na lang beraadslaging besluit ons dat Bruidegom en die Prinse moet bly. Grootprins is egter nie ‘n ou wat hom sommer so by die huis laat los nie. Hy kom met groot stories oor hoe ‘n besoek aan ‘n vreemde land sy algemene kennis oor die wêreld sal uitbrei en op die lang duur absoluut voordelig sal wees om hom ‘n beter mens te maak. Met die argument in gedagte belowe ek met gekruisde vingers en so half halfhartig dat hy maar kan saamgaan.

Toe dit kaartjiekooptyd word besluit ek en Bruidegom egter dat dit aansienlik beter sal wees vir ons beursies as dalk net ek gaan en vliegkaartjies en ‘n visum word flink bewerk. Ons sal later in sameswering ‘n leuen bedink om Grootprins te verwittig van sy lot. Maar niks is ook heilig in ‘n huis met dun mure nie en toe Grootprins uitvind is die gort natuurlik gaar. Hy is klaarblyklik nie okay met ‘n mamma wat vals beloftes maak nie.

Ek sien hoe my ma-van-die-jaar prys voor my oë versplinter! Dus moet daar nou nog ‘n ekstra kaartjie en visum bewerkstellig word. Een reusagtige probleem is egter dat ek en Grootprins nou twee verskillende verwysingsnommers het vir die vlug en nie saam kan inskakel in ons vlugte nie.

Maar dank die gode vir fone. Stel jou voor ek moes iemand telegrafeer of per seëlpos in die hande probeer kry. Ek bel toe maar die besprekingsagent. Hou ‘n uur aan (na ‘n ander land!) en spandeer meer op die oproep as aan die kaartjies. Foonagent mannetjie verseker my dat ek en Grootprins langs mekaar sal sit op al ons vlugte. Net om seker te maak stuur ek nog ‘n epossie so week vooraf en ‘n ander Eposagent dametjie verseker my weer dat alles onder beheer is en dat dit niks is om oor bekommerd te wees nie. Ek en Grootprins kan hand-aan-hand Kumbaya sit en sing in al ons vlugte.

Ek is tevrede. Grootprins is tevrede. Daar is vrede. Ons pak ons rugsakkies. Vlieg heerlik Holland toe. Slaap op mekaar se skouers in die vliegtuig. Klim verwonderd in Schippol af. Lag en omhels ou vriende. Woon die beste drietalige troue ooit by. Verstaan amper niks wat enige iemand sê nie. Vreet kaas. Koop klompe en ontkoop dit weer toe ons sien wat dit kos. Probeer ‘n fiets huur maar kan nie want ek het my paspoort in die woonstel vergeet. Sien elke museum wat bestaan.

Grootprins is ingelig en reg om ‘n sinvolle bydrae tot die samelewing te lewer met sy nuwe wêreldkennis. Ons omhels weer ons vriende, die keer koebaai en druk ons verwysingsnommer in die lughawe se slim masjien in om ons instapkaartjies te druk. En net daar verloor ons wolkie sy goue rant. (Ons wolke het goue rante want Kleinprins hou nie van silwer nie.)

Ons vlieg saam van Holland na Parys. Maar van daar af sit ons ligjare vêr van mekaar af. Grootprins se ogies swel vol trane. “Mamma jy het belowe ons sit bymekaar.” Een traan spat letterlik van sy wang af net om die oomblik meer dramaties te maak. Ek begin grondwaardinne opsoek. Die vrolike Hollandse waardinne is pragtig en vriendelik. Maar hulle sal ongelukkig nie kan help nie. Dit moet in Parys opgelos word. Ons het net ‘n halfuur in Parys en dis twaalf uur in die aand!

Ek bel my hulplyn. Bruidegom moet dit probeer oplos. Want dis wat hy doen. Hy los my probleme op! Maar nie die keer nie.

“Jammer vrou. Jy gaan maar net moet sterkstaan as jy in Parys kom. Ek kan niks van hier af doen nie.”

“Ja wel ek sal maar probeer” mompel ek.

“Jy gaan meer as moet probeer vrou. Ek ken jou. Jy’s ‘n pushover. Maar dit gaan Grootprins se hele trip bederf as jy dit nie uitsorteer nie” sê man streng.

Ek probeer nog ‘n laaste keer een van die Hollandse meisies oorreed om my te probeer help. Maar niks. Ek en Grootprins klim op en koester ons laaste oomblikke saam op ons vlug. Die trane se strate nog nie droog op sy wange nie. Ek begin myself opwerk. En jy kan nie glo hoe ‘n mamma wie se kindertjies tenagekom word haarself kan opwerk in ‘n uur nie. Teen die tyd dat ek afklim in Parys is ek reg vir oorlog. Ek is woedend. Egter nie heeltemal seker vir wie nie.

Ek loop my egter vas in ‘n Franse tante wat nie nonsens van kabouters soos ek vat nie. Wat my natuurlik toe nou sommer nog meer die josie in maak.

“Julle moes saam geboek het om mee te begin” blaf die tante met ‘n diep franse aksent wat ek net-net verstaan. Dis hier dat ek toe oorslaan in Swenglish. (In my vorige blog het ek gepraat van Vloekaans- die is sy engelse sussie.) Ek onthou sinne soos: “Ek het twee keer bevestig.” “Die is ‘n helptafel, hoekom op aarde sal hulle iemand soos jy hier sit?” ” Ek gaan vir seker nie vir een van die passasiers vra om te skuif nie- dis julle fout….”

Toe sy egter sê ek moet om hemelsnaam ASSEBLIEF bedaar sy kan sien ek is duidelik moeg en uitgestres, verloor ek al my albasters op die plek. Wat daarna gebeur het is bietjie van ‘n lugleegte in my geheue. Die uiteinde was egter dat sy ewe gedwee saamgestap het aan boord en een of ander oom van sy sitplek af beveel het. Sy nuwe stoel  die een wat eens vir Grootprins bedoel was. Ek wat halfhartig “merci” brom. Pushover se alie!

Grootprins het die hele petalje maar net met groot oë dopgehou, maar dankbaar onder my vlerk ingeskuif toe ons opstyg.

In Johannesburg aangekom vra Bruidegom: “So het jy toe darem langs mamma gesit op die vliegtuig?”

“Ja. Pappa dit was awesome. Jy moes mamma hoor daar in Parys. Dis net peep peep peep peeeeeeep peep. Daai arme Franse tannie!” borrel hy oor.

“Ek is trots op jou vrou” sê bruidegom.

“Ek ook” dink ek en belowe myself om nooit weer oor te slaan na Swenglish toe solank ek lewe nie. Maar ai daai verdomde Franse maak ‘n ou darem net baie kwaad…

*Ek hoop egter Grootprins vergeet dat sy mamma Swenglish magtig is en onthou liewer al die beter woorde wat ek al in my lewe kwytgeraak het. En ek hoop hy onthou al die woorde van my hart…en ook die van sy hart….want dis mooies. 🙂

You Might Also Like