As jy eers ‘n tannie is…

4th January 2016

Die anderdag op ‘n Saterdag laasjaar iewers sit ek by ‘n sesjarige maatjie se partytjie en wonder of ek soos al die mammas daar tee/ koffie sal drink, of sommer net een van die pappas se biere sal nuttig. (I KNOW- gender inequality is alive and well!!) Na ‘n laaaang gesprek met myself in my kop besluit ek uiteindelik op ‘n bier. Dis immers 30 grade, die geluid van 20 sesjariges (en jonger!) dawer oor die vlaktes van die 10×10 meter erf en Kleinprins se bestie se pappa het die bier in sy hand bitter bitter bitter lekker laat lyk…dis my storie en ek bly daarby!

Ek sluip dus so ongesiens moontlik, stil en op my plek, kombuis toe en help myself om ‘n Windhoek Draft te red uit ‘n toekoms van fatale veroudering op ‘n yskasrak iewers. Die doppie het skaars geklink of  die pienk Samsung vibreer in my gatsak…dis die Pappabeer. Ek oorweeg dit om die oproep te ignoreer. Dis immers ‘n ou laai van die Pappabeer om my te bel as hy verveeld raak op ‘n Saterdagmiddag- net vir ingeval ek dalk iets lekkerder doen as hy. Ek bedink myself egter en antwoord half versigtig- seker dat die Pappabeer met die woord hallo, dadelik sal weet ek drink bier sonder hom.

Dis egter ‘n stem in distres aan die ander kant van die lyn. “Jy gaan dadelik moet huis toe kom. En stop vir pille langs die pad. Sterkes.” Ek weet dit kan nie Kleinprins wees nie, want hy is by my, en Grootprins is nie die ongeluksvoël tipe nie…ek vra dus in my besorgdste stem moontlik: “Ag nee man, wat het jy aangevang?” (Ek weet op papier klink dit minder besorgd en meer geirriteerd, maar weerens…dis my storie en ek bly daarby!)

“My rug is uit…aaah…..aaaaaaah.” Die laaste aaaaaah is meer vir effek en ek rol my oë. Ek is bly dis oor die foon want hy hou nie daarvan as ek my oë rol nie…“Hoe op aarde kry jy dit reg, het jy alweer in die dak rondgefoeter?”…weereens met baie meer besorgdheid as waarmee dit mag voorkom. “Jy gaan net lag as ek jou vertel…” kreun hy jammerlik.

“Try my.” Ek maak ‘n kopnota om nie te lag nie.

“Ek het my broek aangetrek.” Stilte

“Ja en toe?” waag ek.

“Dis dit. Ek het my broek aangetrek, nou is my rug uit.”

Ek hou die lag binne tot ek die foon neergesit het, want dis wat liefde is. Ek lag nie omdat my man se rug uit is van broek aantrek nie, maar eerder omdat ek weet- oudword is nie vir sissies nie.

Die ding van oudword is- dit kom soos ‘n dief in die nag. Een oggend kan jy nog hip hop in die gimnasium saam met die perky 20 jariges en die volgende dag lê jy met hamstring krampe en ‘n BAIE seer knie in dieselfde gimnasium se gange en probeer almal daar (onsuksesvol) oortuig dat jy fiks jonk en gesond is en net bietjie op die vloer lê omdat jy strek of iets. (Ek kan nie regtig onthou watter verskoning ek kwytgeraak het nie- ek was sekondes weg van uitpass af…ek het enige en alle woorde geprewel wat opgekom het op daai stadium…)

Die anderdag sing ek backing vocals vir ‘n vriend van my se band. Die hele lot van hulle is so in hulle vroeë twintigs, so ek vang toe maar die gees en hou my uitrusting by jannas en sneakers…en voel ek staan nie te veel uit nie. Die jong drommer het my egter vinnig op my plek gesit en bewys dat jannas en sneakers nie noodwendig 10 jaar van jou voorkoms af sny nie…”Tannie…tannie…raak tannie nie nervous voor tannie so op stage gaan nie tannie?”. Vyf tannies in EEN sin!! Sekerlik net om seker te maak ek hoor reg. Om dit alles te kroon vertel ek die storie vir my man (vir simpatie en sy ontkenning dat ek oud en oor die muur is natuurlik), waarna my seun heel tereg opmerk: “Jy is immers al middeljarig mamma…”  Hy verwys ook gereeld na my universiteitsvriende as “jou vriende van die vorige eeu.”

Die ding is- jou gees word nie oud nie. Inteendeel…ek was in gees baie ouer toe ek 20 was. (Die gewroeg was om van naar te word.) Maar jou mooi plooilose gesiggie en soepel lyf en ledemate, hangore tolleransie en wakkerbly vermoë is een dag nog daar en die volgende dag net WEG! En jy wil dit probeer onderhou, want jou hart is 20 (wel volgend Discovery is my hart en cholestrol vlakke nader aan iewers in die veertig…maar wie tel?). Die ding is net- dis nie iets wat jy kan keer nie. Met BAIE moeite kan jy dit stadiger laat gebeur…maar so seker soos parramanel gaat hy vir jou kom- daai ding by name ouderdom!

Ek is egter nog jonk. Ek weet, al dink my Grootprins nie noodwendig so nie, so ek maak ‘n punt om dit te probeer bly. So elke nou en dan snoeker voorvalle soos die “tannie” uitlatings van “grootmense” en ander onvoorsiene (lyf-ingee) gebeurtenisse dit en sit my so paar jaar terug. Maar daar is ook goeie dinge van oudword…

Ek het ‘n kennis wat homself graag aanhaal in sy eie blogs en dit irriteer my grensloos…maar ek gaan myself tog aanhaal in die een…

“Ek hou ook van ouer word. Vreugdes is lekkerder, Liefde is makliker, Die stupid vrae in ou se kop word minder en so jaar na jaar al stiller. En as jy weer kyk is jy gelukkig, content en maak alles sin.” ~3 Januarie 2014-Facebook status

So dit sal dalk met ‘n uit rug wees, of plooie en rolle om die maag wat geen gimnasium meer kan regdokter nie…maar ek weier om te glo dat middeljare die einde is. Hierdie tannie raak nie nervous nie. Nooit nie!

You Might Also Like